Nuuswaardighede (25 Feb – 1 Maart)

Leerders prestreer by interskole swem-gala

Cayla Bakkes links, Merwe vd Merwe middel en Natalie Reeves regs

Laerskool Stulting het die 26ste Februarie hul jaarlikse interskole swem-gala gehou by Hoërskool Nico Malan. Ten spyte van die wind en reën het die leerders uitstekend gevaar en altesaam 3 rekords verbreek. Cayla Bakkes het die meisies ope 25m borsslag se rekord met 22 sekondes verbreek, terwyl Merwe v.d. Merwe die seuns o/10 25m vryslag se rekord met 16.31 sekondes verbreek het, sowel as die seuns ope 50m vryslag met 35.35 sekondes. Natalie Reeves het ‘n trofeë ontvang vir puik deursettingsvermoë.

Baie geluk aan elke leerder wat ‘n plek behaal het. Ons is geweldig trots op julle! Baie dankie ook aan al die personeel van Laerskool Stulting met julle aansteeklike entoesiasme!

Personeel van links na regs – Me. Kylie Janse van Rensburg, Me. Chantall Spangenberg, Me. Suné Ehlers, Me. Danelle Viljoen, Me. Karin Pienaar en Me. Shené Engelbrecht


Stulting leerders geniet robotika en dekodering

Connor Felix, Jodie Humby en Jadon Nicholis

Aphelele Gxuluwa en Isaac Schales

Die Gr. 3 leerders van Laerskool Stulting moes ‘n LEGO-slak bou en die rekenaar so programeer d.m.v. dekodering sodat die slak van kleur verander en ‘n klank kon maak. Tydens hierdie kodering en robotika voer Lego opvoedkundige WEDO-robotte, in hierdie geval ‘n slak, die instruksies van die kodeerder uit. Die leerders kon na die les ‘n bietjie kreatief word en vlerke en wat nog alles aan die slak vasmaak om dit in ‘n ander insek te verander.

Die leerders geniet behoorlik hierdie nuwe leerervaringe! Hoe wonderlik dat ons leerders van jongs af aan hierdie tipe van tegnologie blootgestel kan word.


Stulting spitbraai!

Die o/13 rugbyspan van Laerskool Stulting het Vrydag, 1 Maart, ‘n groot spitbraai gehou ter insameling van hulle toer na Ricbeeck-Kasteel later vanjaar. Die ma’s en pa’s het met groot entoesiasme ingespring met die reëlings! Altesaam 5 skape is gespit vir sowat 200 mense. Slaaie en heerlike vars roosterbrood het die sappige spitbraai-vleis perfek afgerond.

En wat is dan nou lekkerder as om met heerlike kos en goeie geselskap saam met die Stulting-familie te kuier. Wat ‘n heerlike aand!


Wêreldbiddag vir vroue

Vrydag, 1 Maart, het Laerskool Stulting Wêreldbiddag vir vroue gevier. Dit was die 89ste viering van hierdie tipe biddag in Suid-Afrika. Dit was die vroue van Slovenië se beurt om vanjaar se tema vir die biddag te kies. Baie dankie aan Marli Potgieter vir ‘n pragtige en treffende boodskap.

Comments are closed.