Stulting – nuuswaardighede (18 – 23 Feb)

Stulting-atlete presteer by Sarah Baartman Kampioenskappe

Stulting is geweldig trots om te sê dat 21 van die 33 atlete wat aan die Kouga-Distrik Atletiek-byeenkoms by Hoërskool Nico Malan deelgeneem het, deurgedring het na die Sarah Baartman Kampioenskappe.  Hierdie kampioenskappe het die 15de Februarie by die Westbourne Oval in Port Elizabeth plaasgevind.  Stulting se atlete het altesaam aan 29 items deelgeneem en het weereens nie teleurgestel nie.  Hulle het met ‘n totaal van 22 medaljes weggedraf, waarvan 12 goue, 7 silwer en 3 brons medaljes is. 

Die atlete is soos volg:

o/10 & o/11 – Melita Steyn – 1200m, Chanel Nel – GS, Ezra Karolisin – GS, Fioné van Zyl – HS, Lianca Rose – GS, Merwe vd Merwe – HJ en 70 mH, Akhumzi Masoka – 70mH

o/12 – Leahné Blaauw– HS, Anja Jansen van Vuuren – 1200m, Minandi Venter – 75mH, Mariané Brüwer – SG, Cearon Felix – SP en 150m, Zander Botha – SG, Muhizi Jamaar – HJ

o/13 – Danica Barbas – SG, Meché Draghoender – DG, Chrisna Sterley – HS, Joshua Napoleon – 800m, Bryan Katoo – 100m / 80mH / 200mH / HJ / LJ (Afwesig: Tazneen Strydom – 75 mH & Cayla Bakkes – SG)


Gr.R-leerders kuier in Sprokiesland

Laerskool Stulting se gr. R en gr. RR klassies het ‘n lieflike sprokiesdag gehou. Elke maatjie kon soos hulle gunsteling held of heldin van ‘n sprokie aantrek. Die klompie het al te fraai in hulle pragtige uitrustings gelyk. Selfs Juffrou Rienie en Juffrou Joselle het besluit om soos húlle sprokiesheldinne aan te trek, want watter juffrou sal nou ook ‘n gulde geleentheid soos hierdie laat verbyglip om weer soos ‘n kind te mag voel.! Die maatjies het selfs ‘n draai by Mnr. Coetzer (skoolhoof) se kantoor gaan maak om hom op ‘n reis deur Sprokiesland te neem.


Wat ‘n uitstappie!

Die gr.7-leerders van Laerskool Stulting het Maandag, 19 Februarie, na Jeffreysbaai se strande vertrek waar hulle meer geleer het oor gewerweldes en ongewerweldes asook die klassifikasie van verskillende organismes. Baie leerders het vir die eerste keer in aanraking gekom met die verskillende invertebrata en vertebrata. Hulle het die praktiese ervaring geweldig baie geniet. Dankie aan die gr. 7-onnies van Stulting wat die leerders vergesel het op hierdie ongelooflike, leersame uitstappie!


Leerders leer speel-speel!

Wie het nou gesê dat mens nie pret mag hê terwyl jy leer nie? Die leerders van Laerskool Stulting raak sommer van jongs af so speel-speel rekenaarvaardig. Nie net leer die maatjies al van gr. 1 af basiese rekenaarvaardigehede aan nie, maar hulle word ook aan dekodering en robotika blootgestel. Die leerders geniet behoorlik hierdie heerlike ervaringe!


Stulting-waardes bo!

Leerders van Laerskool Stulting weet wat goeie waardes is en is nie skaam om dit uit te leef nie.

Geduld, liefde, verdraagsaamheid, eerlikheid, vreugde, integriteit, respek, deursettingsvermoë en rekenskap vorm immers deel van die fondasie van Stulting-leerders. Die gr.6-leerders en hulle onnies het besluit dat hulle op Valentynsdag nie net die waarde van liefde moet uitstraal nie, maar dat die waarde van respek net so belangrik is. En watter ander kleur as oranje is dan nou meer gepas om hierdie boodskap oor te dra!

Goeie waardes is uiters belangrik en is beslis iets wat van jongs af by kinders gekweek moet word. En om te “practice what you preach” is presies waarin Stulting-leerders glo. Vat vyf vir puik entoesiasme!


So uit die hart van die gemeente…

Die NG Kerk Humansdorp het elke onderwyser van Laerskool Stulting verras met ‘n linaal, met die boodskap “no one will measure up to you” daarop, om hulle daaraan te herhinner dat hulle harde werk in die gemeenskap waardeer word.

Comments are closed.